Verwerping en behaag

Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.

1 Pet 2:4 – Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;

Jesus het na Sy eie mense gekom, die Herder na Sy skape, maar Sy eie wou Hom nie gehad het nie. Die Lig vir die wêreld het gekom om die duisternis te kom verlig, maar mense het duisternis liewer gehad as die lig.

Elke vorm van verwerping wat ons ervaar het in ons lewe kom van mense af. Mense wat wetend of onwetend verwerp. Sommige mense wat wetend verwerp omdat hulle duisternis liewer het as die lig, ander mense wat onwetend verwerp omdat hulle self verwond is in hulle lewe.

Een van die resultate van verwerping is dat ons eie seer van verwerping so groot is dat ons dit terugtrek na ons geestelike verhouding met die Here en eenvoudig nie kan insien dat Hy ons nie ook verwerp nie. Vir meeste mense skiet ek tekort. Vir die Here skiet ek ook tekort. Ek is nie goed genoeg vir mense nie, so ek is ook nie goed genoeg vir God nie.

Dit is n leuen wat vanuit die hel aangeblaas word. Die Seun van God, die Verlosser van die wêreld, is deur mense verwerp, maar was kosbaar en uitverkore in Sy Vader se oë en hart. Dit is wat 1 Pet 2:4 vir ons sê. Sal jy jouself oopmaak vir die waarheid dat jou Hemelse Vader jou nie verwerp soos mense jou verwerp nie. Jy mag dalk deur mense verwerp wees, maar is kosbaar vir Hom.

Ons lees dat voor Jesus gesterf het, het 3 ure se duisternis op die aarde toegesak. Helder oordag. Toe die sonde van die wêreld op Jesus toesak en Hy die sonde dra van die mensdom, was daar n fisiese manifestasie van duisternis. Jesus het sonde geword en daar was n oomblik wat die Vader Sy aangesig weggedraai het. Jesus se uitroep was: My God, My God, waarom het U my verlaat.

Die weg van verlossing en aanvaarding was die weg waar die kosbare, uitverkore Seun verwerping moes deurgaan, sonde moes word, dit dra en die losprys daarvoor moes betaal sodat ons nie deur God verwerp moet word nie.

Hy is deur die oomblik van verwerping deur Sy Hemelse Vader, as die verpersoonliking van sonde, sodat ek en jy nooit verwerp sal word nie.

Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is. En net so is elkeen wat in Christus is, vir God uitverkore en kosbaar.

Is jy in Christus? Dan is die vir jou.

GEDAGTE: Glo jy vas dat jy vir God nie goed genoeg is nie? Dit is die vrug van al jou verwerpings deur die jare vanaf mense. Die sessie lig stappe uit wat lei na genesing. Kies die waarheid van hierdie paar stappe oor en oor en begin mediteer op die waarheid dat jy ook deur mense verwerp is, maar kosbaar vir God is.

GEBED: Hemelse Vader, lei my op die weg van genesing van my verwerping. Om een vir een die mense te kan vergewe en vryspreek wat my verwerp het en om die negatiewe denkpatrone hieroor te verbreek. Ek kies om te begin wandel met die waarheid dat Ek vir U kosbaar is. Kom plant hierdie waarheid diep in my hart en gedagtes. In Jesus Naam. Amen.

1 Sam 16:1(b) – “Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Isai, die Betlehemiet, want Ek het onder Sy seuns vir my n koning uitgesoek.”

Terwyl die profeet Samuel treur oor Saul wat van die Here afvallig geraak het, kom die Here en sê vir hom: ‘Ek het onder Isai se seuns vir my n koning uitgesoek’.

Samuel was n gevrese profeet van sy tyd. As Samuel jou laat weet om al jou seuns bymekaar te maak want hy kom kuier, was dit beslis n baie groot gebeurtenis. Iets waaroor die hele streek se mense sou gesels.

Dis interessant dat ons lees dat Dawid nie in sy pa se oë die kwalifikasie gehad het om saam met die ander seuns genooi te wees vir Samuel se besoek nie. Hy moes in die veld bly en skape oppas. Wat het in Dawid se hart aangegaan tydens die gebeurtenis?

Dis n bekende verhaal in Bybel geskiedenis. Die seun, die een wat as die geringste geag is deur sy pa en broers, word die een wat die Here kies om koning te word van Israel.

Is die moontlik dat die Here na jou en jou hart kyk en anders kyk as wat mense kyk? Mense mag jou dalk verwerp, maar Hy het jou uitgesoek deur die Here om n draer van Sy glorie te wees.

GEBED: Hemelse Vader, vanoggend aanvaar ek dat ek deur U gekies is om n draer van U glorie te wees. Kom woon in my, kom vul my met U Heilige Gees, net soos vir Dawid. Amen.

Joh 15:18 – “As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het.”

Word jy deur mense verwerp omdat jy opstaan vir dit wat Goddelike is en waar is? Die Woord van God leer vir ons dat dit iets is wat ons nie oor verras moet wees nie.

Moenie in n woestyn seisoen ingaan omdat jy met God worstel oor die feit dat mense jou verwerp omdat jy opstaan vir Hom nie. Jy moet dit verwag en Hy maak dit duidelik vir ons.

As ons wandel in Sy Lig, sal die wat in duisternis sit nie van ons hou nie. Hulle mag ons selfs verwerp, hulle mag ons selfs haat.

As die wêreld julle haat, weet net dat hy My voor julle reeds gehaat het’ – die Lig vir die wêreld is deur mense verwerp en Hy het ons gewaarsku dat ons ook verwerp mag word as ons Hom sou volg.

Jy mag dalk verwerp word, nie omdat God nie goed is nie, nie omdat God nie lief is vir jou nie, nie omdat God jou verwerp nie. Nee. Is dit dalk juis alles die teenoorgestelde. Jy wandel in die lig en dit wat Hy gesê het sal gebeur, is besig om te gebeur.

In Hand 5:40-41 lees ons dat die dissipels geslaan is deur die Joodse raad omdat hulle aangehou het om Jesus as Messias te verkondig en belet is om voort te gaan. Vers 41 vertel vir ons dat hulle die gebeurtenis verlaat het en bly was dat hulle waardig geag is om vir Sy Naam oneer te lei.

Die dissipels is verwerp en geslaan deur hulle geestelike leiers, maar prys die Here dat hulle waardig geag is om vir Sy Naam te lei.

Die wêreld het Hom gehaat en sal ons ook haat as ons in Sy lig wandel. Word jy dalk verwerp omdat jy juis in Sy wil is vir jou lewe? Mense haat jou dalk, maar Hy glimlag met trots oor jou lewe.

GEBED: Hemelse Vader, dankie dat U my ook waardig ag om vir die Naam van Jesus te lei. Ek kies om diegene te vergewe wat my verwerp. Ek bid vir hulle dat die lig van U glorie ook sy plek na hulle harte mag vind en hulle U ook mag ken as liefdevolle Verlosser. In Jesus Naam. Amen.

WordPress Video Lightbox