Trauma

Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak?

Het jy die tydlyn oefening gedoen? Trek n tydlyn op van jou lewe waarin jy die traumatiese gebeurtenisse in jou lewe daarop aandui. Kan jy van die meosionele en geestelike uitdagings wat jy ervaar, terugtrek na van hierdie trauma geleenthede?

Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.

2 Kor 1:8-10 ‘Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. ‘

Paulus vertel vir ons in hierdie skrif van, soos hy dit noem, “moeilikhede” wat hy in Asië ondervind het. In so n mate dat hy vertel dat dit ver bo hul eie kragte gestrek het. Dit wat hulle verduur het was erger as wat hulle eie vermoë om te kan “cope” daarmee, kon hanteer. So moeilik dat hulle selfs die hoop om te lewe, laat vaar het.

As Paulus skryf dat hy weet wat dit is om deur moeilike tye te gaan, jok hy nie vir ons nie. Paulus is dus nie net hierdie rigiede leier wat op sy troontjie sit en links en regs opdragte uitgee nie. As ons Paulus se briewe lees, kan ons bemoedig word deur die woorde van n mens wat trauma en ander moeilike tye ken. Lees die volgende gedeelte en vra jouself die vraag af: Kon Paulus moontlik trauma beleef het met van hierdie voorvalle?

2 Kor 11:23-29 ‘Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan.

Dis verstommend wat hy hier noem. As ek en jy hierdie dinge moet deurmaak vir die evangelie van Jesus, sal ons steeds hoopvol aanhou? Of sal ons harte lankal teen God gedraai het en ons opgegee het?

Paulus getuig egter: in 2 Kor 1:10 – ‘Dit is Hy wat ons uit so ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red.’

Ons het nie altyd beheer oor die omstandighede van ons lewe wat trauma kan veroorsaak nie. Soos Paulus kan ons egter vashou aan die hoop dat die Here ons nie net uit die doodsgevaar kan red nie, maar ons binneste genees van die trauma van die negatiewe ervaring.

Soos Paulus, mag ons dalk deur geweldige moeilike tye gaan, maar vanuit n intieme wandel met die Here, genesing vind en sodoende daardeur gevorm word om n kragtiger getuienis te en koninkryk impak te hê.

GEBED: Hemelse Vader, dankie dat ek vanoggend kon lees van Paulus se swaarkry en hoe U hom uit elkeen gered het. U ken die voorvalle in my lewe wat diep trauma veroorsaak het. Ek kies om dit vir U oop te maak sodat U glorie lig op my binneste kan skyn en my ook genees en red. Ek weet dat ek saam met U ook kan uitstyg bokan my omstandighede. In Jesus Naam. Amen.

Psa 107:13-16 ‘Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle uit die donker, uit die diep duisternis, laat uitkom, Hy het hulle boeie stukkend gebreek. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen, ‘

Ek voel hulpeloos. Ek weet nie meer wat om te doen nie… Miskien was dit jy voordat hierdie week se sessie van trauma begin het.

Die progressie van die skrif is soos volg:

  • Nood en ellende
  • n Uitroep na die Here
  • Bevryding uit duisternis
  • Boeie wat stukkend gebreek word
  • Lofprysing vir Sy getroue liefde en wonderdade

Voel jy nog of jy sit by punt 1? Nood, ellende, duisternis. Is trauma van jou verlede dalk n oorsaak van jou duisternis? Is dit dalk die worte wat oorsprong begin gee het aan die bitter / slegte vrugte wat jy tans ervaar in jou emosies en geestelike lewe?

Sit jy met jou tydlyn van trauma gebeurtenisse voor jou? Openbaar Heilige Gees vir jou iets?

n Uitroep na die Here. n Rou uitroep in afhanklikheid en hulp is die begin van bevryding. Trauma se rippel effek is enorm en skep geleentheid vir twyfel om in te kruip. Twyfel skep ruimte vir leuens van duisternis om in te kom en my op plekke van duisternis te hou. Hierdie is n plek waar die boeie van duisternis my vashou op donker plekke.

n Uitroep na Hom, n oopmaak vir Sy woorde wat die waarheid inbring en die leuen vernietig is juis dit wat die boeie stukkend breek wat my gevange hou.

Hy wil jou trauma gebeure met sy liefde en teenwoordigheid kom oorspoel en jou bemagtig om Hom te loof vir getroue liefde en wonderdade aan jou.

GEBED: Hemelse Vader, kom openbaar die leuens van trauma wat my in duisternis hou. Heilige Gees ek nooi U om die waarheid te kom fluister oor die leuens. Dankie dat U die wortels en oorsake duidelik uitwys en my help om die wortels van trauma te kan verwyder. Ek begin reeds om U te loof vir U getroue liefde en wonderdade aan my. In Jesus Naam. Amen.

WordPress Video Lightbox