Sessies

Sessie 1: Innerlike Genesing

In 2 Kor 5:17 lees ons dat die wat in Christus is, n nuwe skepsel is en dat die ou dinge verby gegaan het en alles nuut geword het. Hoekom is innerlike genesing dan nodig? Hierdie sessie lê die fondasie van Vibrant Hearts neer asook waar en hoe om die pad van genesing te begin.

Sessie 2: Bitterheid en vergifnis

Die gebeure van ons verlede kan so maklik veroorsaak dat bitterheid in ons lewe teenwoordig is, en ons dit nie eers raaksien nie. Vergifnis is die sleutel om ontslae te raak van die bitterheid in ons lewe.

Sessie 3: Gedagtes

Ons kyk in hierdie sessie na die werking van die brein en hoe gedagte patrone gevorm word. Daar is hoop vir die bestaande gedagtepatrone wat ons lewe op n negatiewe manier beinvloed. Die vernuwing van jou gedagtes is moontlik. Moet nie hierdie een misloop nie.

Sessie 4: Demoniese bindinge en erfsondes

Kan kinders van God deur duisternis aangeval word? Wat is die oorsprong van seëninge en vloeke? Wat word bedoel met Eks 34:7 “…wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag”? Dis onder andere die kwessies wat aangespreek word.

Sessie 5: Die herinnering in jou selle

Slegte gebeure van ons verlede kan nie net n negatiewe impak in ons gedagtes hê deur die vorming van negatiewe gedagtes nie, maar ook merkers laat in ons DNA. n Merker het n geheue, maar die Leeu van Juda het die laaste sê

Sessie 6: Selfvergifnis en veroordeling

Ek kan eenvoudig nie myself vergewe nie. Klink dit bekend? As God jou kan vergewe, wie is jy om jouself nie te vergewe nie. Hierdie is gewoonlik n sessie waar Heilige Gees baie diep kom werk. Laat Hom toe om jou ware identiteit te kom herstel.

Sessie 7: Verwerping en behaag

Die wortels van verwerping lê baie diep. Die vrugte van verwerping is vernietigend. Voel jy asof jy die heeltyd hard moet werk om almal tevrede te stel en as jy nie kan nie, laat dit jou op n donker plek? Daar is beslis hoop vir jou. Heilige Gees wil die wortels van jou verwerping kom uitwys en jou begelei tot Vryheid en genesing.

Sessie 8: Trauma

Trauma is ‘n erge emosionele skok en pyn wat veroorsaak word deur stresvolle gebeure buite jou beheer. Wat is die lang termyn impak van die traumatiese gebeure van jou verlede? Ons kyk na die Bybelse waarhede wat lig sal werp op jou post-trauma donkerte en jou sal lei na n lewe van oorwinning.

Sessie 9: Seksuele sondes en sielsbande

Die Here het die seksuele geskape om mooi en skoon te wees, maar satan het daarin geslaag om dit wat mooi was te neem en dit vuil te maak. Lérie deel uit haar eie lewe hoe God die seksuele afdrukke van haar lewe kom genees het en bonatuurlike herstel gebring het.

Sessie 10: Innerlike beloftes, trots en godsdienstigheid

Ek sal nooit soos my ma wees nie. Ek sal nooit iemand trou soos my pa nie. En toe? Toe gebeur dit. Kom leer meer oor innerlike beloftes, die konneksie tussen trots en innerlike beloftes en die godsdienstige maskers wat die vrug is van hierdie soort trots. Dis tyd vir verandering.

Sessie 11: Eer vs rebellie

Ware eer het sy oorsprong in die hart. Eer is n Bybelse beginsel met n geweldige positiewe opbrengs. Rebellie daarteenoor is vernietigend, dit steel eer en is iets wat die seën van die Here verhinder. Die sessie behels ‘n indiepte studie van die 2 onderwerpe en ons kyk na die stappe van genesing om n lewe van rebellie te verander in n lewe van eer.

Sessie 12: Skaamte

Skaamte is die intense pynlike gevoel wat n mens ervaar oor sy / haar eie foute, tekortkominge en sondes. Skaamte laat jou voel dat jy nooit goed genoeg is nie. Wat is skaamte se wortel? Hoe ontwikkel hierdie skaamte wortel van kleintyd af? Wat is die vrugte van skaamte? Hierdie is nog n sessie met n geweldige diep impak.

Sessie 13: Vrees

Geloof en vrees is 2 teenoorgestelde geestelike kragte wat teen mekaar werk in die lewe van n gelowige. Albei projekteer in die toekoms in en dring daarop aan om vervul te word. Een van die twee sal oorheers in die areas van ons lewe. Op een of ander tyd sukkel ons almal met vrees. In die sessie kyk ons onder andere na stres en die impak daarvan op ons liggaam. Ons kyk ook na vrees vir mense en die vrees van God en hoe om die ongesonde vrees te oorkom.

Sessie 14: Jou tong

Jou hart is die boom en jou woorde is die vrugte. Aan die woorde van ons mond, maak ons vir almal bekend wat in ons hart aangaan. Wie kan die tong tem, is n vraag wat in die Woord van God gevra word. Dit verklaar ook dat ons hart kan bly wees en ons tong kan juig

Sessie 15: Reinheid

Mat 5:8 sê “Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”. Wat beteken hierdie vers en hoe kan die begrip hiervan ons help op ons pad vorentoe? Persoonlike reinheid is so n belangrike begrip om te verstaan.

WordPress Video Lightbox