Jou tong

Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.

Jak 1:26 As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie.

Hierdie is een van daardie verse wat my soms laat wens dat dit nie in die Bybel staan nie. As die Here nie ernstig was oor ons tong nie, sou Heilige Gees nie toegelaat het dat hierdie uit Jakobus se pen tot ons behoue gebly het nie. Kan ek en jy dink dat ons baie godsdienstige mense is, maar die Here wat daagliks hoor wat ons sê, vir ons hierdeur laat weet: Jou godsdiens is niks werd nie want jou tong het geen filters nie.

In die gedagtes sessie is die boodskap sterk: Dink wat jy dink. Hier wil ons sê: Luister na wat jy sê. Is jy enigsins aandagtig oor die woorde wat uit jou mond stroom oor jouself, jou familie, jou baas, jou kolegas, die politiek van die land, die Here?

Met dieselfde mond prys ons die Here en vervloek ons mense. Met dieselfde mond skree en vloek ons en met dieselfde mond sing ons lofliedere. Die doel van hierdie sessie in Vibrant Hearts is om mense te help om te negin luister na wat hulle sê. Om aandagtig te wees of die woorde van hul mond net dood spreek of hoofsaaklik lewe spreek.

Ons tong verklap wat in ons hart opgesluit is en dit wat in ons hart opgesluit is, is nie weggesteek vir die Here nie. Is skinder, jok, laster of grootpratery aan die orde van die dag maar ons besef dit nie want dit is maar hoe ons praat?

Sal jy begin bid dat Heilige Gees jou aandagtig maak oor die woorde wat uit jou mond uit kom? Hoe meer ons groei om ons tong te tem, hoe dieper kan ons groei in intimiteit met die Here. Om 100% ten alle tye net mooi en regte woorde te spreek, gaan dalk nie moontlik wees nie. Maar om te groei in die bewustheid van wat ons sê is moontlik. Om sensitiewer te raak vir Heilige Gees om dadelik bewus te wees as iets verkeerd uitgekom het, is beslis moontlik.

En as ons bewus is dat iets verkeerd uitgekom het, het ons dadelik die geleeintheid om iemand omverskoning te vra of vergifnis van ons Hemelse Vader. Om niks te doen aan die woorde wat uit ons mond vloei nie, maak dalk dat ons godsdiens tevergeefs is, maar as ons bereid is om biddend aandag daaraan te gee, maak ons die deure oop vir wonderwerke in die area en is dit n teken van aktiewe en lewendige godsdiens.

GEBED: Heilige Gees, kom help my asb om te groei in die bewustheid van wat ek sê sodat die woorde wat uit my mond vloei meer en meer lewende water sal wees en minder en minder brak water. In Jesus Naam. Amen.

WordPress Video Lightbox