Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.
Luk 15: 11-13 (NLV) – 11 Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad. 12 Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel. 13 n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe.
Elke dag van ons lewe is gevul met keuses en besluite wat ons in situasies maak. Hierdie gelykenis begin deur vir ons te vertel van n seun wat besluit het dat dit tyd is om sy vader se huis te verlaat. Verder het hy gevra vir sy erfporsie om solank aan hom gegee te word. Opvallend is dat die vader instem tot die seun se versoek.
Ons Hemelse Vader gee so vir ons ook die vryheid om Hom te kan aanvaar of te verwerp. Die vader in hierdie gelykenis het heel moontlik geweet wat die uitkoms gaan wees van sy seun se besluit, maar was nie n diktator wat sy seun se keuses oorheers het met sy eie wil nie.
Vir n tydperk lank het dit goed gegaan met die seun (in sy eie oë). Hy het baie geld gehad, baie vriende gehad en het weelderig gelewe. Dinge het egter vinnig skeef begin loop, en teen verwagting beland hy in die varkhok. Hy het alles verloor. Keuses (wetend of onwetend), om ons Hemelse Vader se teenwoordigheid in ons lewe te verruil vir die plesiere van die wêreld, laat ons dikwels in die varkhok beland.
Terwyl die seun in die varkhok sit, onthou hy sy vader en hoe dit met hom gegaan het in sy vader se huis.
GEDAGTE: Het van jou besluite jou dalk in die “varkhok” van die lewe laat beland? As jy vandag jou Vader onthou en terug verlang na sy huis / Sy teenwoordigheid, is die pad terug net nog n keuse weg. Besluit om terug te gaan.
GEBED: Hemelse Vader, my eie besluite het my op slegte plekke laat beland. Ek kies om die pad te wandel, terug na U hart toe. Amen
Luk 15:20 (NLV) – Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.
As jy hierdie gelykenis sou lees in “The Passion Translation (TPT)” sou jy vind dat die opskrif van hierdie gelykenis lees – “The Loving Father” en nie soos ons gewoond is “The Prodigal Son” nie. Dit ondersteun die gedagte dat die hoofkarakter van hierdie gelykenis eintlik die Vader is, en nie die verlore seun nie.
In vers 1 en 2 van hierdie hoofstuk lees ons hoe Jesus met sondaar mense omgegaan het en dat die godsdienstige leiers van Sy tyd hom gekritiseer het hieroor. Hoe kan Jesus met sulke mense omgaan? Die hele hoofstuk 15 is toegewy daaraan om hierdie vraag aan te spreek. n Skaap het weg gedwaal en is weer gevind, n muntstuk het weggeraak en is weer gevind, n seun het verkeerd gekies, maar het kom regmaak.
In al 3 hierdie gelykenis is die vreugde van die ontdekking n oorheersende gedagte en Jesus vertel vir ons dat dit vir Vader, Seun en Heilige Gees n groot vreugde is wanneer iemand wat velore was weer gevind word, wanneer iemand wat verkeerd gekies het, terugkom en kom regmaak.
Die vader het gesit en wag, die pad gesit en dophou. Die vader het nie net aangegaan met sy lewe en die seun afgeskryf nie. Die seun het met sy terugkoms n ander reaksie van sy vader af verwag. Die vader is heeltemal anders as wie die seun gedink het hy was. In plaas van verwyte, ontvang hy innige jammerte, omhelsing en soene.
GEDAGTE: Het jou keuses en die impak daarvan in jou lewe jou al laat begin dink dat jou Hemelse Vader nie goed is nie? Dat jy te verleë en skuldig voel om terug te gaan, want Hy is te teleurgesteld in jou? Jesus vertel vir ons dat ons Hemelse Vader anders is. Hy hou die pad dop en wag vir ons terugkeer. Vader wil sy beeld in jou hart en gedagtes herstel.
GEBED: Hemelse Vader, ek besef opnuut dat U so goed is. Vergewe vir my dat ek anders gedink het. Dankie dat ek weer kan uitsien na U omhelsing en soene. Amen.
Luk 15:22 (NLV) – Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis, en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete’.
n Seun wat skande op sy familie gebring het, kry n ere ontvangs met sy terugkeer na sy vaderhuis.
Die seun se woorde was: “Ek het teen u gesondig. Maak my soos een van u slawe”, die Vader se reaksie was: “My seun was dood en het teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar is nou weer gevind”.
Jy is nie My slaaf nie, jy is My seun. Jy is nie My slavin nie, jy is My dogter. Jy is n kind van die Koning.
Om dit te bevestig, kry die seun dadelik n mantel (die vader eer sy seun), n ring (die seun het vader se outoriteit) en skoene aan sy voete (teken dat hy n seun in die huis is en nie n slaaf nie).
Met die seun se berou en terugkeer, herstel die vader sy identiteit. Jou Hemelse Vader het net soos in hierdie gelykenis n heeltemal ander beeld van jou as wat jy van jouself het. Omdat jy gekies het om jou verkeerde keuses te begin regstel deur na jou Hemelse Vader te draai, het Hy nou die geleentheid om met jou n pad te stap om jou identiteit te herstel.
Koop die tyd uit om Vader se liefdesbrief aan jou, Die Bybel, te lees om sodoende daardeur getransformeer te word om jouself te sien soos Hy jou reeds sien.
GEDAGTE: Dink jy dalk nog van jouself as n slaaf, as n mislukking, as n skande vir jou Hemelse Vader? Hierdie gelykenis is vir jou geskryf om vir jou te leer dat met jou terugkeer, Hy jou reeds sien en hanteer vir wie jy is. Sy seun of Sy dogter. Sy kind.
GEBED: Hemelse Vader, ek het gekies om terug te kom, maar die beeld wat ek van myself het is nog nie goed nie. Dankie dat ek in geloof vandag kan vat dat U my anders sien as ek myself. Ek trek vandag my mantel aan, ontvang my ring en skoene en sal van vandag af ook my hart oopmaak sodat U hierdie waarheid in my kan vestig.