Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.
Psa 91:14-15 Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy My Naam ken. Hy sal My aanroep, en ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
n Innerlike gelofte is n bindende belofte wat aan jouself gemaak is wat uitskree: “NOOIT WEER NIE”. Gewoonlik is dit die resultaat van bedreigende of traumatiese gebeurtenis in jou lewe. Hierdie beloftes aan self kan n geweldige bindende krag in ons lewens word indien dit onhanteerd gelaat word in ons lewe.
Onbewustelik word n besluit gemaak dat ons nooit weer gaan toelaat dat n soortgelyke voorval gebeur nie, dat ons onsself moet beskerm daarteen omdat die Here ons nie beskerm het nie. Die resultaat hiervan is dat ons stadig maar seker mure om ons hart bou wat ons verhinder om volkome te kan liefhê en volkome die liefde van iemand anders of van God kan ontvang.
Hoekom vind ek dit so moeilik om God te vertrou? Kan dit wees dat my lewe gestuur word deur n innerlike gelofte van jare gelede waartydens ek gevoel het dat die Here nie daar was vir my nie? Ek sal dit self moet doen. Ek sal moet omsien na myself. Dit was die logiese gevolgtrekking na die voorval.
Ons logiese gevolgtrekkings en die waarheid wat opgeteken is in Psa 91:14-15 kan dikwels ver verwyderd wees van mekaar. “In die nood sal Ek by hom wees”, dit is die woorde van ons Hemelse Vader.
Is dit veiliger dat jy jouself beskerm, of het jy Goddelike beskerming nodig? Onthou, ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie. Hoe beskerm jy jouself teen n vyand wat jy nie kan sien nie?
Kan dit moontlik wees dat God in die nood daar saam met jou was? Dat die gebrokenheid van hierdie wêreld ook gebrokenheid oor jou gebring het, wat vir jare lank jou terughou om ten volle op God te kan vertrou.
Vandag kan die eerste treë wees wat jy gee om die mure van ‘ek sal self’ af te breek en die mure van ‘ek vertrou op Hom’ te begin opbou.
GEDAGTE: Kyk na jou trauma diagram van laasweek en bid oor die voorvalle deurdat jy vir die Heilige Gees vra om die moontlike innerlike geloftes uit te wys wat saam met die traumatiese gebeurtenis gevolg het.
GEBED: Hemelse Vader, vergewe my asb dat ek vir soveel jare op myself vertrou en nie op U nie. Kom herinner my asb van die innerlike geloftes van my verlede en hoe dit veroorsaak dat ek die lewe op my eie wil aanpak. Kom deurgrond my hart en gedagtes en bring die dinge na die lig toe. Help my om een vir een met elke innerlike gelofte, die leuen te kan ontbloot en te kan vervang met U waarheid sodat ek opnuut weer ten volle op U kan vertrou. In Jesus Naam. Amen.
Jak 4:6 – Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.
Wat kan veroorsaak dat God my weerstaan? Die hoogmoedigheid of trots van my hart. Ons lewe in n wêreld wat “self” wil ophef. Alhoewel menseregte sy plek het in die sameleweing om die verkeerd te beveg, help dit wel om die fokus te plaas op self, en die regte wat ek as n individue het. Die manier waarop die samelewing opereer is op n manier wat teen God is. Soos die hoofstuk van Jak 4:16 uitwys – die samelewing roem in grootpratery.
Dis maklik om trots uit te wys in mense waar ons kan ervaar dat die persoon dink hulle is beter as ander mense. Maar kan dit wees dat trots sit agter die volgende innerlike geloftes:
- Ek sal nooit weer dat iemand so aan my vat nie.
- Ek sal nooit soos my ma wees nie.
- Ek sal nooit weer n man vertrou nie.
- Ek sal nie weer toelaat dat iemand my beheer nie.
- Ek sal nooit weer voor n groep mense praat nie.
- Ek sal nooit weer my ware gevoelens deel nie.
Hierdie is maar n paar voorbeelde van beloftes wat met onsself gemaak is vanuit n plek waar n besluit gemaak word dat niemand vir my gaan sorg nie. Ek moet vir myself sorg. Ek is OK, solank ek nooit weer…
Alhoewel dit te verstane is dat die beloftes gemaak word vanuit n plek van teleurstellings en seerkry en dit as n beskermingsmeganisme gebruik word, is hierdie beloftes tekens van n lewe van onafhanklikheid van God. Dis tekens dat die self nog opereer en hierdie areas van my lewe nog gebukkend gaan onder die seerkry van my lewe en alhoewel ons mag voel dat dit ons beskerm, bind dit ons eintlik om n groter mate van volheid en vrede te ervaar wat God geskape het.
Jak 4:5 (net die vers voor ons dagstukkie vers lees soos volg in The Passion Translation) – Does the scripture mean nothing to you that says, “The Spirit that God breathed into your hearts is a jealous Lover who intensely desires to have more and more of us”?
So n diep skrif… Dit verduidelik dat die Here jaloers is omdat Hy meer en meer van ons begeer. Hy begeer dat ons nie meer en meer agter self wegkruip nie, maar sal oorgee sodat ons meer en meer van Hom sal beleef. Dat meer en meer van die seer van ons lewe oopgemaak sal word vir Sy genesende krag en lig om te kom skyn op ons donkerte. Sodoende sal ons meer van Hom kry en Hy meer van ons kry.
Moenie agter trots wegkruip as beskerming wat sê: “Ek is OK” nie. Dit hou ons weg van intimiteit af met Heilige, Heilige Gees.
GEBED: Hemelse Vader, ek besef vandag dat my my trots n borswapen is wat veroorsaak dat U nie by my hart kan uitkom nie. Ek is bereid om myself kwesbaar te maak voor U in die wete dat ek in veilige hande is. Ek is bereid om te begin om my trots daagliks neer te lê om sodoende vir U geleentheid te gee om my te kom genees. In Jesus Naam. Amen.