Onder volg die hoofpunte wat genoem is in die refleksie gedeelte van die Gedagte sessie. Spandeer tyd in gebed met die Here en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.
- Het jy al die keuse gemaak om te begin dink wat jy dink?
- Het jy enige negatiewe gedagte patrone geïdentifiseer, voor of tydens die sessie?
- Is jy bereid om die kamers van jou hart saam met Heilige Gees oop te maak?
- Ontken jy jou emosies omdat jy dink dat dit ‘n teken van swakheid is?
- Het jy ‘n veilige plek waar jy oop en eerlik kan wees?
- Het jy vir te lank jou emosies onderdruk?
- Maak ‘n doelbewuste keuse om negatiewe gedagte patrone te verruil vir God se waarheid.
Rom 12:2 (AFR83) – Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik is.
In Vibrant Hearts se gedagte sessie het Lérie met ons gedeel dat ons gees mens nuut en skoon gemaak is, gewas is met Jesus bloed op daardie dag toe ons onsself aan God oorgegee is. Ons was geestelik dood, maar ons lewe weer.
Ongelukkig het ons brein nie dieselfde oombliklike transformasie ondergaan nie. Rom 12:2 vra vir ons om God toe te laat om ons denke te vernuwe. Hierdie is n proses wat die gevolg is van n wandel saam met God. As ons saam met Hom wandel, gee ons Hom die geleentheid om ander waarhede tot ons te spreek en ons het n verantwoordelikheid om hierdie waarhede te bedink.
Dink wat jy dink – iets wat jy baie gaan hoor terwyl jy met Vibrant Hearts besig is en iets wat ons hoop jou lewe lank by jou sal bly. Die vermoë om in hierdie konsep te groei is n sleutel tot die vernuwing van jou denke.
Hoekom is jou gemoed so laag? Is dit nie omdat jou gedagtes stink nie? Jou hart en brein is verbind. Die meditasies van jou hart, die gedagtes waarop jy dwaal, die gesprekke in jou kop plaas jou gemoed op n baie slegte plek.
My gedagtes is maar net my gedagtes. Ek was nog nooit aktief bewus van dit wat ek dink nie. Dis die eerste ding wat moet verander. Laat God toe om inspraak te maak in jou gedagte wêreld.
GEDAGTE: Die Here weet wat jy dink, maar jy is nie aldag bewus van dit wat jy dink nie. Dit vloei net en jou gedagtes hardloop met jou weg. Vra vir Heilige Gees om jou by te staan sodat jy meer bewus kan word van dit wat Hy sien en hoor, gedagtes wat nodig het om vernuwe te word.
GEBED: Heilige Gees, help my om te dink wat ek dink. Sal U die negatiewe gedagtepatrone kom uitwys en my bystaan om my gedagtes te vernuwe. In Jesus Naam. Amen.
Jos 1:8 (AFR83) – Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.
As ek vir jou die term “M&M” noem, waaraan dink jy? Die lekkergoed pakkie wat jy by die winkel koop. Mag van vandag af, elke keer as jy n pakkie M&M’s sien, jy dink aan die term – Memoriseer en Mediteer.
Die Here het vir Josua gevra om aandagtig te luister na Sy woorde, en om dit dag en nag te oordink – by implikasie: mediteer daarop. Uit eie ondervinding uit, is dit baie makliker vir my op op iets te mediteer, as ek dit ook gememoriseer het.
Hoeveel Bybel verse kan jy uit jou kop uit opnoem, sonder die Bybel voor jou? Saam met die deel waar dit staan? Byvoorbeeld – “Jos 1:8 sê – Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees…”.
Die woord van God is ons wapen en om anders te begin dink, moet ons ons swaard gebruik. Dis n sleutel tot die oorwinning van slegte gedagtes.
Memoriseer n skrifgedeelte wat jou situasie aanspreek. Skrifgedeeltes wat stilte in jou storm inbring. As jy dit gememoriseer het, kan jy enige plek daarop mediteer, sonder dat jy jou Bybel hoef oop te maak… In n vergadering, as jy bestuur of inkopies koop, as jy gaan oefen of terwyl jy besig is om te werk.
Memoriseer maak dat jy dit in jou hart en gedagtes kan opnoem, mediteer is dan oor en oor nadink daaroor. As jou gedagtes stink, vervang dit met gedagtes van n goeie geur. Die woord van God is die beste geur. Begin om die vers verwysing memoriseer. “Fil 4:6-7 sê…” of “Joh 3:16 sê…” ens. Dat jy kan weet waar dit staan. Gaan daarna voort en memoriseer die inhoud van die vers.
Om oor en oor na te dink oor die skrifgedeelte gaan jou ook help om aan te beweeg in die uitvoering daarvan, en dit gaan jou help om die negatiewe gedagtes vas te vang en tot gehoorsaamheid te bring aan Christus deurdat jy die negatiewe gedagte vervang met God se woord.
Begin vandag om te M&M. Oor tyd sal jy baie skrifte in die arsenaal van jou geheue hê wat jy soos die behoefte opkom kan uithaal en as n swaard teen jou geestelike vyand kan gebruik.
GEDAGTE: Watter skrifgedeelte bring stilte in jou huidige storm in? Begin deur dit te memoriseer en daarop te mediteer. Terwyl jy besig is met jou normale dag take.
GEBED: Heilige Gees, ek dank U vir die swaard van die Gees. Leer my hoe om hierdie beginsel te gebruik as n wapen teen my negatiewe gedagtes. In Jesus Naam. Amen
Rom 8:6 (NLV) – As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.
Die term “dood” in die Bybel het dikwels n verwysing na skeiding met God. n Gelowige in wie se lewe die sondige natuur hulle denke oorheers, ervaar in meeste gevalle gebroke gemeenskap of skeiding in hulle verhouding met die Here. As die sondige natuur jou denke oorheers, is jy besig om jou lewe op n valse stel waardes te bou, wat die manier hoe jou hart God sien negatief beinvloed. Daarom voel die hart ver van God af.
Daar was n tydperk in my lewe toe my grootste begeerte was om meer vrede te hê. Rustigheid in my binneste. My hart was stormagtig en my gedagtes was die wind wat die storm aangevuur het. Ek het lewe en vrede begin ervaar toe ek die beginsels van hierdie dagstukkies weer nader getrek en beoefen het.
Heilige Gees is n fontein van lewe waarby ons kan drink. Die woord van God is die lewende water wat ons nodig het. Om lewe en vrede in my gedagtes en hart te ervaar, moet ek bereid wees om vir Heilige Gees reg van weg in my lewe te gee. Ek moet bereid wees om te erken dat ek n probleem het en ek moet bereid wees om te werk met dit wat Hy Sy vinger op plaas.
Aan die eenkant dood; aan die ander kant, lewe en vrede. Dit is wat Rom 8:6 vir ons voorhou. En dit waarmee ek my denke vul is die bepalende faktor wat gaan maak of ek daagliks die dood beleef, en of lewe en vrede heers.
Wat sê die Bybel oor God? Wat sê die Bybel oor jou en hoe God oor jou voel en dink? Wat sê die Bybel oor God se plan van verlossing? Wat sê die Bybel oor die Helper wat Jesus gestuur het om my by te staan? Is dit wat die Woord sê vir jou net riglyne wat jy kan oorweeg in jou lewe, of is dit vir jou die absolute waarheid en fondasie waarop jy jou lewe bou?
Ek en jy kan nie verder toelaat dat ons ervaringe in die lewe verander hoe ons na die Woord van God kyk nie. Ons moet toelaat dat die Woord van God ons ervaringe en uiteindelik vir ons verander.
Hoe soet is die smaak van lewe en vrede nie! Bedink die Woord van God. Sodoende gaan die Heilige Gees jou denke oorheers en as jy gaan aanhou hiermee, sal lewe en vrede oorheers.
GEBED: Hemelse Vader, ek kies opnuut om te kom drink uit die bron van lewe en vrede. My lewenservaringe verander hoe ek na U woord kyk, maar ek besef dat U woord overanderlik is en die antwoord is op my lewenservaringe. Van hierdie week af is ek op n nuwe reis met U, om te bedink wat Gees en lewe is. Ek sien uit na die soet smaak van vrede. In Jesus Naam. Amen.