Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.
1 Sam 2:29-30 Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in My woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel? Daarom spreek die Here, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die Here: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.
Eli was oud en sy seuns het nie gehoor gegee aan God se woord nie. As priesters moes hulle n voorbeeld wees vir die volk, maar openlik het hulle gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Eli het wel met hulle gepraat, maar het nie opgetree of oorgegaan tot aksie om hulle te straf vir die verkeerd wat hulle gedoen het nie.
In terme van eer, was hierdie familie aan die verkeerde kant daarvan. Die seuns weet wat reg en verkeerd was, en kies bewustelik die verkeerde. Dit is rebellie teeroor God van hulle kant af. Hulle toon ook geen eer vir hulle aardse vader nie, want hulle ignoreer sy woorde wat hulle aanmoedig om te draai van hulle verkeerde weë.
Verder, deur nie teen hulle op te tree nie, het Eli sy seuns hoër geag as God en die Here wat die harte ondersoek en die harte ken, vra in vers 29 “Hoekom eer jy jou seuns meer as vir My?”. Die beginsel van eer is so ernstig dat die Here dat selfs die goeie voorneme wat hy oor hulle en die Priesterlike amp van Sy volk Israel gehad het, terug te neem. Die goeie voorneme om hulle te seën verander in: “Julle sal veragtelik wees”.
Die 5de gebod sê duidelik vir ons dat eer die seën bring van: dit sal met jou goed gaan en jy sal n lang lewe hê. Ons sien dat die teenoorgestelde daarvan afspeel in 1 Sam 2:32 “… en in jou huis sal daar al die dae geen bejaarde wees nie”. Die dae van hulle lewe is verkort. Nie net Eli se 2 seuns nie, maar die van hulle nageslag ook, as gevolg van die oneer en rebellie van hul vaders.
GEDAGTE: Net soos vergifnis, is eer nie opsioneel nie, maar n opdrag met sekere gevolge. God het aardse outoriteit daar gestel om onderdanig aan te wees. Maar ons kan nooit mense meer eer as vir God nie. Ons kan nie bekostig om vir tydelike voorspoed, ons ewige eindbesteming op te offer nie.
GEBED: Hemelse Vader, ek besef dat ek ook in my lewe mense eer bokant U. Vergewe vir my daarvoor. Kom groei my in my begrip van eer en kom help my om n gesonde eer vir mense en vir U te hê. Al beteken dit dat die vuuroond vir my warmer gemaak gaan word, kies ek om U bo mense te eer. Dankie dat U saam my is in my keuse. In Jesus Naam. Amen.
Luk 22: 25-27 (Die Boodskap) Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie soos baie mense in magsposisies maak nie. Hulle hou daarvan om oor ander baas te speel. Hulle wil gedurig met groot respek behandel word omdat hulle so belangrik is. Maar julle moenie soos hulle wees nie. As julle regtig belangrik wil wees, moet julle die minste wees. Dié van julle wat die meeste respek verdien, moet van nou af die heel geringste wees. Behandel ander mense met groot respek, maak nie saak wie hulle is nie. Elkeen van julle wat ’n baie belangrike posisie wil beklee, moet nou dadelik julle moue oprol en begin om ander gelowiges te dien. “Sê My, wie is die belangrikste persoon by ’n feesmaal, die eregaste of die kelners wat hulle bedien? Ja, natuurlik: die eregaste. Maar kyk net wat Ek kom doen het. Ek wat die heel belangrikste van almal is, het my koningsklere uitgetrek. Ek dien julle almal. Ek het die belangrikste plekke aan julle afgestaan.
Eer is geen geringe onderwerp nie en om te eer kan soms baie moeilik wees. In ‘n ideale wêreld sal almal altyd doen wat reg is, niemand sal trots wees nie en almal sal omsien na n ander se belange voor sy / haar eie. Maar ons wêreld werk nie so nie. Die manier van die wêreld is “Ek” voor / bo “Jou”.
As ons praat oor die beginsel van eer, maak dit die deur oop vir “Ja, maar…”. Ja maar kyk wat doen my man. Hoe verwag jy moet ons hom eer as die hoof van ons huis? Ja, maar kyk wat doen die President en die regering. Sekerlik kan God nie van my verwag om hierdie goddelose regering te eer nie? Ja, maar my ouers doen die einste ding wat hulle sê ek nie moet doen nie en verwag van my om hulle te eer, want die Bybel sê so.
Hoe eer ek die oneerbare? Ek kies om hulle eer te gee, ongeag of hulle dit verdien of nie. Die wêreld sê: Jy verdien nie eer nie, so ek gaan dit nie vir jou gee nie. As dissipel het jy seker al agter gekom dat Jesus vir ons n weg kom wys het wat 100% anders is as die algemene weg van die wêreld. Die 3 verse van ons dagstukkie wys dit duidelik uit.
Daar is min eer in die wêreld om n dienskneg te wees. Om die minste te wees en ander te dien. Tog sê Jesus vir ons: as jy respek en eer wil hê en verdien, rol jou moue op en dien ander. Hy het dit vir ons kom wys. Die Koning van die konings het homself kom verneder en ons kom dien. Op aarde sal dit mense se monde toemaak, want hulle sal nie verstaan hoekom jy so is nie. In die hemel sal jy groot genoem word.
Ons is eerste n hemelse burger met n hemelse Koning. Mag daardie eer en loon vir ons almal ‘n groter begeerte raak as die aardse.
Moenie eer verwag deurdat jy n belangrike persoon wil wees, jouself en jou “ek” wil verhef nie. Kry eer deur te dien. Kies om te eer. Kies om te dien. Ja, dis soms baie moeilik. Daar is nie n eenvoudige antwoord vir elke moeilike situasie nie. Eer gaan oor die neerlê van trots, veral as eer nie verdien word nie.
GEDAGTE: Sal jy kies om die wat baas wil speel deur hulle belangrikheid uit te lig, te eer deur te dien? Jou gedrag kan eer betoon, al stem jy nie met hulle saam nie. As dit wat hulle vereis nie teen die skrif is nie, kies om jouself neer te lê en gehoor te gee aan die gesag bo jou.
GEBED: Here Jesus, om dienskneg te wees is soms moeilik vir my, maar U het dit kom demonstreer en nie net gepraat daarvan nie. Ek het U hulp en krag nodig om my eie ek neer te lê en eer te verdien deur te dien.
1 Sam 24:10-12 ‘Dawid sê toe vir Saul: “Waarom luister u na die praatjies van mense wat sê Dawid soek u ondergang? U sien vandag met u eie oë dat die Here u nou in die grot in my hand gegee het en as ‘t ware vir my gesê het om u dood te maak. Maar ek het u gespaar en gesê: ‘Ek sal my hand nie teen my koning oplig nie, want hy is die gesalfde van die Here.’ My vader, kyk tog, kyk na die punt van u mantel in my hand. Deurdat ek die punt van u mantel afgesny het, maar u nie doodgemaak het nie, kan u weet en sien dat daar geen kwaadwilligheid of opstandigheid by my is nie. Ek het nie teen u in opstand gekom nie, selfs al agtervolg u my om my lewe te neem. ‘
Saul se hart het weg gedraai van die Here af. Die guns van die Here het toegeneem oor Dawid se lewe. Almal in Israel kon dit sien en daarom wou Saul vir Dawid doodmaak.
As daar iemand daarbuite is wat beplan om my lewe te neem en ek sou dit weet, sou dit dalk vir my die grootste rede gee om met oneer teenoor daardie persoon om te gaan? Ek praat nie van iemand wat ongeskik met my is nie, iemand wat iets van my verwag wat ek nie van hou nie, iemand wat self verkeerd doen, maar van my verwag om die regte ding te doen nie. Die persoon wil jou lewe neem.
Watter groter onheil kan iemand teen jou beplan as dit?
Dawid kies om Saul te eer. Dawid erken Saul se posisie van leierskap en dat die koning van Israel deur God daar gestel is, al is dit duidelik dat Saul nie meer in die weë van die Here wandel nie en al weet Dawid dat God lank terug reeds deur die profeet Samuel aangekondig dat Dawid koning sou wees.
Die boek Psalms is vol van Dawid se woorde wat geskryf is in moeilike tye. Van hierdie tye was as gevolg van die feit dat hy vir Saul moes vlug en in grotte moes wegkruip. Dawid het al die rede in die wêreld gehad om sy hand teen Saul te lig en sy lewe te neem. Hy kon maklik in hierdie situasie gedink het: “Ek gaan jou doodmaak voor jy my doodmaak”.
Dawid was egter diep bewus dat die Here se oë sien wat aangaan. Dat die Here vir Saul as koning gesalf het en al het Saul van die weë van die Here afgewyk, is die posisie van die koning van Israel steeds iets wat God ingestel het en dat dit nie sy plek is om regter te wees oor Saul nie.
Geskiedenis wys vir ons dat Saul net meer en meer agteruit gegaan het endat die Here vir Dawid net meer en meer guns gegee het. Een van die redes was omdat Dawid onder druk tye, keuses soos hierdie gemaak het.
GEDAGTE: Om eer te kies in n situasie waar eer nie verdien word nie, is geweldig moeilik en ie iets wat in eie krag moontlik is nie. Wees biddend en vertrou met jou hele hart op Heilige Gees se hulp om eer te kan kies in jou eie “Dawid/Saul” situasie.
GEBED: Hemelse Vader, ek het U hulp nodig om eer te kan gee. U weet van my situasie en U weet wat in my hart aangaan. Vergewe my vir die situasies waar ek oneer gekies het en dalk rebellie gehuisves het. Vestig asb die beginsel van eer in my lewe, om n groot en sterk boom te word wat goeie vrugte dra. In Jesus Naam. Amen.