Demoniese bindinge en erfsondes

Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.

Efe 4:27 (AFR53) – en gee aan die duiwel geen plek nie.

Is die mag van sonde verbreek en die angel van die dood verwyder 2000 jaar terug toe Jesus sterwe en 3 dae later uit die dood opstaan? n Baie beslissende JA. Satan het nie geweet wat hy doen toe hy mense gebruik het om Jesus te kruisig nie. Baie vinnig na Jesus gesterwe het, het satan agtergekom dat hy n fout gemaak het. Die heerskappy wat Adam verloor het, het Jesus op daardie dag terug kom neem.

Satan is n verslane vyand, maar sedert Paasnaweek 2000 gelede, is hy n gewonde vyand. En n gevaarlike een as jy sou kies om op sy grondgebied te gaan rondloop. Daarom moedig Paulus die Efesiërs aan om die duiwel geen plek in hulle lewe te gee nie.

Ek dink aan die verhaal van die 3 varkies. Twee van hulle se huise was swak en kon maklik omgeblaas word. Die derde varkie het n stewige huis gehad, maar selfs daar het die wolf om en om die huis geloop om plek te soek om in te kom. Die wolf in die verhaal is n tipe van satan. Hy soek gedurigdeur n opening, n plek om ons aan te klae en rede om regmatiglik te kan vernietig.

Efe 4:17-31 vertel vir ons van slegte vrugte wat kan floreer in n mens se lewe. Die dinge wat hier genoem word is teenwoordig in gelowiges se lewe ook. Wanneer hierdie patrone n lewe oorheers, is dit soos n oop deur, n oop venster waardeur ons geestelike vyand kan inkom. Alhoewel hy oorwin is, moet jy nie dink hy kan nie meer vernietig nie. As jy hom gaan aanhou plek gee, gaan hy aanhou vernietig.

Maak toe die deure en vensters wat vir hom toegang gee in jou lewe.

GEDAGTE: Deur jou kop soos n volstruis in n gat te steek en te maak asof satan nie bestaan nie, gaan jou nie red van sy vernietigende mag nie. Daar is n sterker mag wat wil werk in jou lewe. Jesus Christus het oorwin. Laat Sy oorwinning een vir een die oop deure en oop vensters van jou geestelike huis kom toemaak.

GEBED: Hemelse Vader, ek is luisterend vir U Gees se fluisteringe. Sal U asb elke oop deur en venster se kosyne kom beseël met die bloed van U seun en my help om dit toe te maak. In Jesus Naam. Amen.

Ope 5:5 (AFR83) – Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu van die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe sëls oopmaak.”

Die Leeu van die stam van Juda het die oorwinning behaal! Het jy al erens n groot maanhaar leeu in lewende lywe gesien? n Maanhaar wat in die fleur van sy lewe is. Daar is min diere in die natuur wat my persoonlik so betower. Die maanhaar is koning waar hy beweeg en dwing gesag af.

1 Pet 5:8 sê wel ook vir ons dat ons vyand, die duiwel soos n brullende leeu rondloop en kyk wie hy kan verslind. Let wel… “soos n brullende leeu”. Maar nie die ware leeu nie. Beslis nie soos die Leeu van Juda nie. Die Nuwe Testament is vol voorvalle waar die ware Leeu van Juda vir satan en sy demoniese magte op hulle plek gesit het omdat Hy op die hoogste stoel van outoriteit sit, en beslis nie hulle nie.

Ons vertrou dat die week se sessie nie n vrees in jou wakker gemaak het deurdat ons oor duisternis praat en die nagevolge daarvan nie. Ons wil juis die teenoorgestelde bereik. Die waarheid van Joh 1:5 – “Die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”

Ons moet praat oor die oop deure wat die sondige natuur veroorsaak en die vloeke wat dit in lewens inbring. Maar n besef van die duisternis maak dat die lig van God soveel meer aanloklik is en die seëninge om deel te wees van Sy Koninkryk soveel soeter smaak.

Ek sien n prentjie van n klein katjie wat voor n groot maanhaar leeu staan. Dis die prentjie van satan voor Jesus. Jesus is die Koning van al die konings. Die Here van die here. Die Een op die troon. Mag jou eerbied en gesonde vrees vir Hom groter wees as vir die bedreër wat deur duistere vrees opereer.

GEDAGTE: n Gesonde vrees vir God is n heilige ding in n gelowige se lewe. Hê eerbied, respek en vrees vir jou Hemelse Vader en nie vir satan nie. Jesus, die ware Leeu van Juda,  het reeds oorwin en is oneindig in gesag en mag hoër verhewe as al die magte van duisternis.

GEBED: Hemelse Vader, dankie dat U besig is om my identiteit as kind van God te herstel. Sal U my leer hoe ek as gelowige kan wandel met die outoriteit van my Here Jesus. Ek kom maak myself onderdanig aan U, ek sal die duiwel weerstaan en dankie vir die Woord wat sê, hy sal van my weg vlug. In Jesus Naam. Amen

Neh 1:6 (AFR83) – luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, U dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir U dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig.

Meeste van ons is goed bekend met Nehemia se lewensverhaal. n Man wat in ballingskap in n vreemde land gesit het en belas was met die slegte tyding oor sy geliefde Jerusalem en vaderland.

Dis duidelik dat Nehemia baie goed geweet het hoekom hulle in ballingskap sit. In sy gebed in Neh 1:5-11  erken Nehemia dat hy, sy familie en sy volk teen God gesondig het en weg gedraai het van die voorskrifte wat die Here vir Moses gegee het.

Na jare in ballingskap, is dit Nehemia se gebed. Hy staan in die gaping. Hy vra om vergifnis. Nie net vir homself nie, maar vir sy familie en namens sy hele volk. Generasies se afvalligheid van die Here af het gemaak dat die volk in ballingskap sit. Generasies het hulle rug op die Here gedraai. Mense wat sekerlik al dood is. En Nehemia besef dit en draai sy hart na die Here toe en se: Ons het teen U gesondig Here. Presies dit het met ons gebeur waaroor U ons gewaarsku het. U het ook gesê as ons berou sou hê en sal terugkeer, sal U herstel. Hoor my gebed vandag Here, ek het berou, ek staan in die gaping namens almal.

Daar is dalk n donker geskiedenis in jou familie agv jou voorgeslagte se keuses. Dalk identifiseer jy sondes en siektes wat van geslag tot geslag deurkom. Genetiese redes is nie altyd die antwoord nie. Wil jy nie die Nehemia in jou familie stamboom wees wat sê: Tot hiertoe en nie verder nie. Dit stop by my.

Trek die streep in die sand van satan se bose planne, keer met jou hele hart terug na Jesus en vra hom om julle te vergewe en dat die krag van Sy bloed die vloeke breek.

GEDAGTE: Dis nie nodig om in die detail verlore te raak van satan se strategieë en planne nie. Raak eerder verlore in die krag van die kruis en Jesus se verlossing. Erken verkeerd as verkeerd en staan in die gaping daarvoor en laat die krag van Jesus bloed toe om Sy werk te doen en menigte sondes te bedek en die vloek van sonde te verbreek.

GEBED: Hemelse Vader, dankie vir die bewusmaking van sonde van my generasies en dat ek in die gaping kan staan voor U daarvoor. Vergewe vir my, ons famile en my voorgeslagte dat ons weg gedraai het van U af. Ek keer terug vandag. Dankie dat U bloed n menigte sondes bedek en die vloek van sonde oor my en my nageslag verbreek. Ek en my huis, ons sal die here dien. In Jesus Naam. Amen.

WordPress Video Lightbox