Bitterheid en Vergifnis

Wat is die hoofpunte wat vir jou uitgestaan het in die week se sessie? Waarvan het Heilige Gees jou bewus gemaak? Spandeer tyd in gebed met Hom en mag jy ervaar hoe Heilige Gees jou lei na waters waar genesing is.

Gen 4: 7 (AFR53) … die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.

Een van die mees bekende verhale oor bitterheid in die Bybel is die een van Kain en Abel. Bitterheid en afguns het die oorhand oor Kain gekry nadat Abel se offers vir die Here aanneemlik was, maar nie die van Kain nie. Die verwerping van Kain se offer was die saad wat in sy hart geplant is, en ‘n bitterheid en afguns wortel het opgekom wat aanleiding gegee het tot moord as die slegte vrug.

Kain se hart was donker en sy kop het gehang. Die Here het vir Kain gewaarsku met die woorde van Gen 4:7 – bitterheid, jaloesie, afguns, haat en wraak lê en loer vir jou Kain, maar jy moet heers daaroor. Kain het egter sy hart verhard en ons almal weet wat die resultaat daarvan was.

“Ek is dalk kwaad, maar sal darem nie moord pleeg nie”. Is dit wat jy dink terwyl jy hierdie lees? Lees die woorde van Mat 5:21-22

“Julle het gehoor dat vir ons voorouers gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie. As jy moord pleeg, sal jy voor die regbank rekenskap moet gee.’ Maar Ek sê vir julle, elkeen wat vir sy medemens kwaad bly, sal al klaar voor die regbank moet verantwoording doen. As jy vir iemand sê ‘jou gek’, sal jy jou voor die hoogste regbank moet verantwoord. En as jy vir iemand sê ‘jou onnosel’, sal jy jou in die hel moet verantwoord.

Hoe maklik maak ons nie onsself skuldig aan hierdie aksies as ons kwaad is nie.

Dit bring my by die punt: Hoe heers ek oor bitterheid, jaloesie, afguns, wraak en haat en nie dit oor my nie? Deur die keuse te maak om te vergewe. Om iemand te vergewe wat nie om verskoning kom vra het vir die verkeerd wat hulle jou aangedoen het nie is baie moeilik.

Saam met Heilige Gees sal jy kan heers. Soos die Here vir Kain kom waarsku het, sal Hy jou bewus maak van die donker areas in jou hart waar onvergifnis heers en waar Sy lig nodig het om te skyn.

GEBED: Heilige Gees, ek het U hulp nodig. Dis vir my moeilik om te vergewe, maar ek kies om dit te doen. Dankie dat U die wortel van bitterheid, afguns en jaloesie uit my lewe verwyder.

Mat 18:27 (AFR83) – Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

Hoeveel keer moet ek nog vergewe? Dis die presiese vraag wat Petrus vir Jesus gevra het en Jesus se antwoord van “70 x 7 keer” is gevolg deur die gelykenis van die amptenaar met die dubbele standaarde.

Jesus kom vertel hierdeur vir my en jou dat ons skuldig staan voor die Koning van die konings met ‘n skuld wat ons nie kan vereffen nie. Dis net te groot. In terme van geld… miljoene rande. En wanneer ons berou het voor die Koning, word dit beantwoord met genade. Hy kry ons innig jammer en vergewe ons skulde. Wat n wonderlike oomblik! In plaas van die swaar prys te betaal, word ek vrygespreek.

Maar Jesus gaan aan en vertel dat hierdie amptenaar nie bereid was om dieselfde te gaan saai as wat hy ontvang het nie. Die amptenaar het sy hart verhard teenoor iemand anders wat hom baie minder geskuld het as wat sy eie skuld was wat afgeskryf is.

Die Koning het dit gehoor. Die Koning weet alles.

Ons eie onvergewensgesindheid is so kragtig dat die die krag van die bloed van Jesus om vry te spreek, neutraliseer. Moenie eendag voor God verskyn en agter kom dat jy vir al jou sonde moet rekenskap doen in die ewige plek van verlorenheid, net omdat jy nie bereid was om aan iemand anders te gee wat jy van Hom af ontvang het nie.

GEDAGTE: As jy dalk die vraag vra: Hoeveel keer moet ek nog vergewe? Mag dit beantwoord word met n vraag: Hoeveel keer wil jy hê moet die Koning jou vergewe?

GEBED: Hemelse Vader, ek is vandag dankbaar in die wete dat U my skuldlas afskryf omdat Jesus daarvoor betaal het. Ek kies om aan ander te saai wat ek van U af ontvang het. In Jesus Naam. Amen.

(Kies opnuut om mense te vergewe wat jou in die verlede seergemaak het. As daar name en voorvalle by jou opkom, wees ook spesifiek en bid daaroor)

Mat 19:26 (AFR53) – Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.

Hoe maklik is dit vir ‘n ryk jong man om afstand te doen van al sy aardse skatte? Om dit alles weg te gee en Jesus te kom volg? Jesus het self gesê: Dis makliker vir n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

Jesus se dissipels was verwonderd. U woorde is te moeilik Here. Die Bybel sê hulle was verslae. As dit so is, kan niemand gered word nie. Jesus bevestig dit. Rakende redding, beslis onmoontlik vir mense, maar nie by God nie, want by Hom is alle dinge moontlik.

Jy het onlangs na Vibrant Hearts se Bitterheid en Vergifnis sessie geluister. Dalk het Heilige Gees Sy vinger kom plaas op voorvalle van jou verlede? Dalk het Heilige Gees sekere mense se name of gesigte voor jou gebring? Was jou reaksie dalk: Dis onmoontlik, ek kan hulle nie vergewe nie.

Hierdie week was jy dalk net so verslae soos die dissipels. Ek kan nie.

Mag jy beleef hoe Jesus na jou kyk en vir jou sê: My kind, vir jou is dit dalk onmoontlik. Maar nie vir My nie. By my is alle dinge moontlik.

GEDAGTE: Memoriseer hierdie week hierdie skrifgedeelte van Mat 19:26 en mediteer gereeld daarop. Kies om jou onmoontlike in Sy hande te plaas.

GEBED: Hemelse Vader, ek vind opnuut hoop vanoggend in die wete dat niks vir U onmoontlik is nie. Ek kies om nie verder my seer en teleurstellings toe te hou nie, maar opnuut vir U oop te maak om die onmoontlike in my lewe te kom reg kry. In Jesus Naam. Amen

WordPress Video Lightbox